Motorrubriek – Volkswagen Passat 2.0 TDI Luxury

 

Die Volkswagen Passat vir 2017 is aansienlik aangepas in vergelyking met verlede jaar se model. Op die oog af is dit nie waarneembaar nie maar die motor is 2 mm korter, 12 mm breër en hurk 14 mm laer aan die padoppervlakte. Die betroubare 2 liter kragbron word nog gebruik maar omdat die motor 178 kg ligter weeg, is daar ‘n brandstofbesparing teweeg gebring. Alhoewel die motor korter is, is daar nie been- of kopruimte ingeboet nie. Dieselfde gerief is steeds beskikbaar en selfs meer.

Met die dat die motor korter is, moes iets ingeboet word! Die bagasiebak is kleiner en waar dit voorheen ‘n volume van 565 liter gehad het is die volume nou 519 liter. Die brandstofhouer is ook verklein. Dit neem nou 66 liter maar dit veroorsaak nie ‘n probleem nie, want die brandstofverbruik het verbeter. Volgens die vervaardiger gebruik dit nou 6,9 l/100 km.

Breër bande word gebruik. Voorheen is 215/55R16 bande gebruik en nou word 235/45R18 bande gebruik. Dit het tot gevolg dat ‘n draai wat voorheen 11,4 meter geneem het nou 11,7 meter neem. Omdat breër bande gebruik word, is ongelykhede op die pad minder voelbaar.

Wat die veiligheid van die insittendes aanbetref, het dit ook verbeter. Daar is nog steeds ses lugsakke, die ISOFix hegpunte vir die babasitplek is in plek maar bykomend hiertoe “sleepwa sleep” veiligheid toegevoeg: die kragbron se wringkrag word gebruik om te verhoed dat die voorste wiele maklik gly wanneer ratte gewissel word of wanneer die krag verminder word.

Wat die kragbron aanbetref het daar ook veranderings plaasgevind. ‘n Dubbel oorhoofse nokas, 16 klep enjin word gebruik en die wringkrag is verhoog van 320 Nm na 350 Nm en die krag het verhoog van 104 kW na 130 kW tussen 3600 o.p.m. en 4000 o.p.m. Alhoewel dit van akademiese belang is, is dit tog nodig om bewus te wees van die reaksietye. Volgens die vervaardiger versnel dit van 0 tot 100 km/u in 8,2 sekondes en die maksimum snelheid is 228 km/u.

Die buite afwerking is ook nie onaangeraak gelaat nie. LED hoofligte is aangebring en kolligte is deel van die gewone toerusting.  ‘n Lugversorger met “climatronic” beheer sorg vir ‘n meer aangename rit terwyl Vienna leer bedekte sitplekke met temperatuur beheer verseker dat ‘n rit gemaklik is. Ander gerieflike toerusting is ‘n tru-kamera, afstandbeheerde bagasiebak oopmaak, parkeer hulp, ‘n verbeterde klankstelsel en nog talle meer.

In 2012 het die Passat R330 000 gekos. Nou vyf jaar later kos dit R494 000 maar intussen het die rand dollar waarde verlaag en daar is meer toerusting aangebring. Wat sê dit vir ons? Indien jy jou 2012 vuurwa wil gaan inruil gaan dit jou meer geld kos maar daar is aansienlik meer waarde vir jou geld.