Motorrubriek – Ford Fiesta 2017

 

Die Ford Fiesta was nog altyd ‘n baie gewilde motor onder bejaardes sowel as die jonger geslag. Die motor vir 2017 beloof om weer eens ‘n wenner te wees.

Die nuwe reeks bestaan uit ‘n aantal modelle waarin drie- en vier silinder kragbronne gepas is. Daar is onder andere drie driesilinder 1,0 liter Ecoboost modelle waarin turbo aanjaers aangebring is en die kragvoorsiening is 74 kW, 92 kW en 103 kW. In verskeie markte gaan ‘n 1,1 liter, driesilinder  wat 52 kW of 63 kW opwek, beskikbaar wees.

In die nuwe motor word ‘n nuwe tegniek ingespan tydens die vervaardiging wat verseker dat die bakwerk 15% meer stewig is. Voorts word daar elektroniese hulpmiddels ingespan om die binne wiele te rem wanneer daar om ‘n draai gegaan word met die gevolg dat die greep op die pad met 10% verbeter.

Die buite afwerking met sierlike lyne skep ‘n meer vaartbelynde indruk en wat die indruk benadruk is dat van die hoeke meer gerond gebou is.  Wat deel vorm van hierdie indruk is dat daar nou gebruik gemaak word van verdere elektroniese hulpmiddels aan die kant van die voertuig vir tye wanneer geparkeer word. Om die windweerstand op die enjinkap te verminder is die spuitjies van die voorste windskerm so aangebring dat dit bykans nie sigbaar is nie. Aan die agter kant is die wyse waarop die agterligte geplaas word op so ‘n manier gedoen dat daar nie skroewe aan die buitekant sigbaar is nie. Die nuwe voertuig is so effe groter as die vorige model. Dit is 4040 mm lank, 1734 mm breed en die wielbasis is 2493 mm lank.

Die vorige model se binne afwerking was oudmodies terwyl die nuwe voertuig ‘n meer moderne indruk skep. In die nuwe Fiesta, wat die eerste Ford produk is waarin dit gebruik word, is ‘n Bang & Olufsen radio ingebou wat meer in pas is met die nuwe voorkoms van die motor. Selfs die aanraakskerm, is ‘n verbeterde produk!

Selfs die veiligheid van die insittendes is aangespreek. Dit voldoen nou aan groter voertuie se veiligheidsaspekte. Die bestuurder van die voertuig se veiligheid is ook aangespreek. ‘n Opgegradeerde stelsel vir voetgangerveiligheid is gepas. ‘n Outomatiese remstelsel voorkom dat daar skade aan ‘n voertuig opgedoen word wanneer dit teen lae spoed moontlik in ‘n botsing betrokke sou wees. Twee kameras, drie radar en 12 ultrasoniese sensors is gemonteer om verder behulpsaam te wees om ‘n moontlike botsing te voorkom.

Ford beoog om ‘n voertuig beskikbaar te stel wat effens hoër as die gewone Fiesta staan waar daar skermplate aan die voor- en agterkante van die motor gepas is sou ‘n mens moontlik ‘n draai in die bos wil gaan maak.

Liefhebbers van die Fiesta kan gerus hulle naaste Ford handelaar gaan besoek en die motor vir ‘n toetsrit neem om hulle te vergewis van die nuwe motor se veranderings.