Merkel en Pence ontmoet mekaar

Die Bondskanselier van Duitsland, Angela Merkel, is van voorneme om die Amerikaanse visepresident, Mike Pence, te ontmoet gedurende die week tydens die München veiligheidskonferensie.

Dit sal die eerste ontmoeting wees wat kanselier Merkel te beurt val met enige senior lid van die nuwe regering in Washington.

Regeringsbronne in Duitsland het laat deurskemer dat Merkel die visepresident sal nader oor Amerika se siening met betrekking tot die toekoms van die Trans Atlantiese verdrag.

Saam met visepresident Pence word die minister van buitelandse Sake, Rex Tillerson en die minister van verdediging, James Mattis na die konferensie gestuur om skakeling te bewerkstellig met Amerika se bondgenote.

Die verhouding tussen Duitsland en Amerika het ietwat versuur nadat president Trump aan bewind gekom het en sy uitsprake oor Navo die Duitse kanselier ontstel het.

Angela Merkel het besluit om vanjaar se konferensie by te woon in die lig van haar voortslepende onrus oor die Amerikaanse regering se houding teenoor Navo en die Europese Unie.

President Trump se bedenkinge oor Merkel se immigrasiebeleid het die kanselier nie aangestaan nie, en het die verhouding benadeel.

Dit is dus te wagte dat Merkel indringende vrae sal vra en duidelike antwoorde verwag oor wat die Amerikaanse regering se houding teenoor Navo is.

Foto – Visepresident Mike Pence