Le Pen steeds op die wenpad

Die Franse Front Nasionaal se presidentskandidaat, Marine Le Pen, se voorsprong het verder vergroot teenoor die verlinkse Sosialis, en die omstrede Republikeinse kandidaat.

Koerante in Europa is bekommerd dat “iets nie verkeerd gaan loop” om Le Pen te stuit nie, en koerante in Brittanje beweer dat sy die verkiesing gaan wen.

Die Franse presidentsverkiesing word in twee stadiums beslis, en alhoewel dit nou algemeen aanvaar word dat sy die eerste rondte gaan wen, is daar steeds diegene wat hoop “dat iets gaan gebeur” wat haar kelder om in die tweede ronde van Meimaand te wen.

Die stelsel vereis dat die twee kandidate wat die meeste steun kry in die April verkiesing, deurdring na die Mei verkiesing.

Meningspeilings toon dat die presidentskandidate van Front Nasionaal en die “onafhanklike” sosialis, die tweede rondte sal haal en dat die Republikeine se kandidaat dit nie sal maak nie weens sy omstredenheid.

Dit blyk dus ’n uitgemaakte saak dat Le Pen as die wenner sal uittree op 23 April, om dan op 7 Mei teen die sosialis te staan gaan kom.

Alhoewel daar nou reeds ’n beroep gedoen word op kiesers om in die tweede rondte op 7 Mei, “teen Marine Le Pen te stem”, word die kiesers klaarblyklik nie so maklik omgepraat nie.

Duisende Republikeine het reeds te kenne gegee dat hulle nie ’n sosialis sal ondersteun nie, en hulle kandidaat, Francois Fillon, het erken dat van sy mees getroue ondersteuners besluit het om Le Pen te steun.

Intussen word alles moontlik gedoen deur Le Pen se teenstanders om haar skuldig te kry vir ’n oortreding wat sy sou begaan het in die afgelope paar jaar, maar kon tot hede nie daarin slaag om met konkrete feite na vore te kom nie.

Waarnemers wys daarop dat die sosialiste in Frankryk steeds hoop om iets te vind wat haar ondergang kan beteken, net soos wat hulle daarin geslaag het om die Republikeinse kandidaat, François Fillon, uit te knikker.

Intussen het Marine Le Pen se steun van 25% na 28% gestyg, wat volgens sekere ontleders ’n klinkklare oorwinning beteken.

Die peiling toon ook dat die sosialis, Emmanuel Macron, se steun gedaal het en dat Fillon besig is om meer steun as hy te werf.

Twee ander kandidate,  Benoît Hamon en Jean-Luc Mélenchon, het elk 13% steun, wat beteken dat hulle beslis in die eerste rondte te min steun sal kry om deur te dring na die finale rondte van 7 Mei.

Die linkses hoop dat die twee sosialiste mekaar kan vind om uiteindelik teen Le Pen te staan in die tweede rondte.

Foto – Marine Le Pen in Libanon