Kommandowurm bedreiging groei

Verantwoordelike mense in Suid-Afrika is saam bekommerd oor die verskynsel van die Amerikaanse kommandowurm wat onverwags ook in Suid-Afrika aangekom het nadat dit verwoesting gesaai het in die buurstate. Ses van die land se provinsies het nou reeds die aanwesigheid van die pes bevestig.

Die koms van die gevaar het kommer laat ontstaan oor die werklike invloed wat dit kan uitoefen op voedselsekerheid en die land se ekonomie.

Die feit dat Suid-Afrika op die rand van rommelstatus huiwer, het mense voldoende rede gegee om te wonder wat gaan gebeur as die mielieoes vernietig word deur die plaag, en mielies weer ten duurste ingevoer moet word.

Alhoewel boere blitsvinnig ingespring het om teenmaatreëls te tref, het die eerste skade reeds sy merk gelaat met talle boere wat meen hulle sal kwalik hul insetkoste kan verhaal uit die oes wat oorgebly het.

Mielies, sowel as ander graangewasse asook groentesoorte is alles ’n teiken vir die kommandowurm, wat as ’n mot die oes nader om daar as wurm sy skade aan te rig.

Die boere se kommer is dat die plaag ook ’n negatiewe invloed kan hê op hulle uitvoere na ander lande, wat ook ’n valuta-implikasie het.

Die kommandowurm het aanvanklik sy verwoesting in die noordelike state van Afrika begin, en geleidelik af beweeg tot in Suid-Afrika, en is bestand teen die grootste deel van chemiese stowwe, maar kan bestry word met ’n mengsel wat gespruit kan word.

Indien die boere nie doeltreffende beheer toepas nie, kan dit tot 70% van die geskatte oeste vernietig, maar dit wil tog lyk asof boere alles moontlik doen om die pes te bestry.

Suid-Afrika beskik gelukkig oor mieliesoorte waarvan sowat 75% nie vatbaar is vir die kommandowurm plaag nie, maar daar is talle ander oeste wat wel vernietig kan word.

Boere word gevra om daagliks inspeksie te doen by hulle oeste en waar die kommandowurm opgemerk word, moet die Departement van Landbou ingelig word.

Kommer bestaan dat baie boere, wat vanjaar ’n rekord oes verwag het wat sou help om die vorige jare se erge droogtes finansieel te oorbrug, nou opgesaal sit met ’n bestrydingkoste wat die bykomende wins kan insluk.