Klipblom / Crassula coccinea / Red crassula

Hier is ‘n kosbare taai plant vir die rotstuin. Crassula is ‘n groot genus van ongeveer 200 vetplantspesies. Dit is geharde plante en vra nie baie water nie.

Crassula wissel van dwerg jaarplante tot langlewende struike wat tot 1,8 m hoog groei. Die meeste van hierdie plante kom in die suidelike halfrond voor en veral in Suid Afrika is dit bekende plante. Klipblomme groei maklik in enige grond en kan in vol son of skadu geplant word. Dit kan in droë gebiede aard en sal ook langs waterdammetjies groei.

Die blomme is helderrooi, ligpienk of wit en klein en dit lyk of dit in trossies groei. Blomme verskyn op die bo-punte van lang sterk stingels. Crassula coccinea is treffende ornamentele plante. Hierdie plante begin blom van Januarie tot vroegherfs. Blomme is veral treffend in helder sonlig. Die stingels van hierdie plante is sterk en dofrooi van kleur. Kleinerige vlesige blare groei dig aan weerskante van die stingels.

Die klipblom aard die heel beste in sonnige rotstuinholtes, randakkers of kan ook in potte geplant word vir die mooiste blomme. Crassula coccinea is ideaal om tussen ander fynbosspesies te plant. Indien hierdie plante goed gevestig is, hoef dit in die winter net van tyd tot tyd water te kry. Die plante is ongelukkig rypgevoelig.

Klipblomme kan van saad of steggies voortgeplant word. Dit word aanbeveel dat so elke 2 jaar nuwe plante geplant moet word. Saai die saad in die herfs in houers met sanderige suur grond. Vars saad sal binne drie tot vier weke ontkiem. In ideale groei omstandighede sal hulle dalk in hul eerste somer blom. Steggies groei egter baie maklik. Hierdie blomme lok verskeie skoenlappers na die tuin.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.