Iran ignoreer VSA sanksies

Nadat Iran verlede week met ballistiese missieltoetse begin het, en Amerika se president Donald Trump hernude sanksies teen die land ingestel het, blyk dit asof die Midde-Oosterse land dit ignoreer.

Iran het Saterdag opnuut met militêre oefeninge begin, waarby ingesluit is verskeie vuurpyle met verskillende reikafstand vermoë wat afgevuur is.

Volgens die Revolusionêre Garde is die oefeninge uitgevoer in antwoord op die “bedreigings en sanksies” van die Amerikaners.

Die uitdaging teen Amerika word ook verder gevoer met die land se verdere besluit om sanksies in te stel teen Amerikaanse individue en Amerikaanse bedrywe, asook teen enige terreur organisasies.

Die bedoeling daarmee is om aan Amerika te sê dat sanksies hom nie sal laat afsien van ballistiese wapentoetse nie, en wil aan die wêreld toon dat hulle terrorisme sal beveg.

Iran het vroeër gesê die land sal nie ballistiese missiele teen enige staat gebruik nie, en sal dit slegs vir selfverdediging ontwikkel en gebruik.

Sedert president Trump die Amerikaanse bewind oorgeneem het, is die spanning verhoog tussen die twee lande, en het dit verder verhoog toe Trump ’n reisverbod ingestel het vir sewe lande in die Midde-Ooste, en Iran daarby ingesluit het.