Internasionale spanning na Kim Jong-nam moord

Die regering van Maleisië is woedend oor eise dat die land iets het om weg te steek oor die moord van die halfbroer van die Nood-Koreaanse leier wat in die land vermoor is.

Die Maleisiese regering het nie net die beskuldiging verwerp nie, maar ook sy ambassadeur in Pyongyang, die hoofstad van Noord-Korea, teruggeroep uit protes teen die beskuldiging.

Kim Jong-nam is verlede week deur beweerde geheime agente van Noord-Korea met ’n gif in die gesig gespuit wat sy dood enkele ure later veroorsaak het.

Kim Jong-nam, die halfbroer van die kommunistiese Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-un, het herhaaldelike kere gesê hy vrees vir sy lewe want sy halfbroer het ook die dood van hulle oom gereël.

Na bewering het die Noord-Koreaanse ambassadeur in Maleisië geïnsinueer dat die Maleisiese regering iets het om weg te steek oor die dood van Kim.

Intussen het die Maleisiese polisie reeds twee vroue en twee mans in hegtenis geneem wat volgens videomateriaal blyk dat hulle by die moord betrokke was.

Maleisië het Noord-Korea se eis verwerp om die lyk van Kim Jong-nam uit te lewer en gesê die land doen ’n behoorlike lykskouing wat as noodsaaklik beskou word vir die hofsaak waarin die vier beskuldigdes sal verskyn, maar Pyongyang het aangedui dat hulle nie die uitslag van die lykskouing sal aanvaar nie.

Foto – Kim Jong-nam