Hoëvlak samesprekings tussen AFD en Rusland

Dit is nie net Marine Le Pen van Frankryk wat nou op internasionale vlak beweeg met haar besoek aan Libanon nie.

Die leier van die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland, dr. Frauke Petry, het ’n ontmoeting gehad met hoëvlak Russiese beamptes in Moskou.

Die woordvoerder van dr. Petry se kantoor wou egter nie verdere besonderhede bekendmaak van die besoek in Moskou, en wou ook nie inligting verstrek met wie gesprek gevoer is in Rusland nie.

Dit is ook nie bekend of enige ander leiers van die AFD haar die afgelope naweek vergesel het na Rusland nie.

In ’n verklaring het die kantoor van die AFD slegs gemeld dat Petry moontlike beter samewerking tussen Rusland en Duitsland bespreek het.

Dit blyk dat Frauke Petry ’n lang gesprek gevoer het met Vyacheslav Volodin,  wat baie na aan president Vladimir Poetin beweeg.

’n Woordvoerder van Rusland het later aangekondig dat die Duitse afvaardiging besoek gebring het op uitnodiging van Moskou.

Petry het ook ’n ontmoeting gehad met Pyotr Tolstoy, ’n besonder prominente persoon verbonde aan die Verenigde Rusland Party.

Politieke waarnemers meen die besoek van dr. Petry aan Rusland is waarskynlik die eerste stap om uiteindelik die regering van Duitsland oor te neem, alhoewel dit nie noodwendig reeds met die September verkiesing sal wees nie.

Die Russiese TV sender het later bekendgemaak dat die Russiese Laerhuis se adjunk speaker, Vladimir Zhirinovsky, asook die voorsitter van die Komitee van Internasionale Sake, Leonid Slutsky, en die voorsitter van die Energie Komitee tesame met ’n aantal parlementariërs by die gesprekke betrokke was.

Die berig in ’n Europese koerant lui dat Vladimir Zhirinovsky ’n energieke veteraan en bekende nasionalis in Rusland is wat beroemd geraak het vir sy sienswyse oor die toekoms van Rusland.

Pogings van die linkse media in Duitsland om te beweer dat die AFD finansiële hulp uit Rusland ontvang het vir die September verkiesing, het klaaglik misluk en moes die media later erken dat dit nie so is nie.

Foto – Dr. Frauke Petry