Glippertjies / Catawba druiwe

Wie van ons onthou nie hierdie glippertjies vanuit ons kinderdae nie? Stroopsoet en pers! Catawba is ‘n rooi Amerikaanse druiwespesie wat vir die maak van allerhande drankies en konfyt gebruik is en natuurlik is dit heerlik om so ‘n ekstra pers trossie af te pluk en een vir een korreltjie in ons monde uit te laat glip. Die Catawba druif is in die spesie Vitis labrusca x Vitis vinifera.

In die 19de eeu was dit een van die gewildste druiwespesie wat geplant was vir die maak van wyn. Glippertjies word maar soos enige ander druiwe geplant en op ‘n prieel gelei en moet ook gereeld gesnoei word. Dit word met steggies geplant. Gewoonlik begin hulle ryp word sodra al die ander druiwe al afgeoes is. Meeldou is geneig om hierdie plante aan te val.

Die Catawba druiwe se blare is kleiner as die ander druiwesoorte se blare maar is dieselfde vorm. Dit rank ook soos ander druiwe. Die boonste gedeelte van die blare is heldergroen met ‘n leeragtige tekstuur en aan die onderkant is dit vol digte sagte wollerige haartjies. Hierdie druiwe dra mildelike trosse druiwe. Die korrels is nie baie groot nie maar baie soet en smaakvol.

Catawba druiwe is geharde plante en kan koue winters en warm somers goed weerstaan.  Daar is nie baie soorte goggas wat hulle verniel nie. Plant maar gerus ‘n prieel aan en geniet ‘n yskoue trossie pers druiwe.

Tuingroete tot volgende keer.