Eers Brexit, nou Grexit?

Die swaar skuldlas wat ’n vorige regering op die nek van Griekeland se kiesers gelê het, dwing die huidige regering om te besin oor volgehoue lidmaatskap van die Europese Unie.

In die afgelope week het honderde boere met hulle trekkers en vragmotors vir die soveelste keer die hoofpaaie blokkeer terwyl grensposte erge toegangskrisisse beleef.

Die ontevredenheid van boere oor hulle produktepryse en talle ander griewe het daartoe gelei dat honderde die snelweë blokkeer en byna onbegaanbaar gemaak het.

Dit is reeds meer as sewe jaar dat die Grieke in ’n finansiële drukgang verkeer wat produsente moedeloos gemaak het, terwyl bejaardes moes sien hoe hulle maandelikse pensioen verminder word.

Met die oproep van president Donald Trump dat Europese lande die EU moet bedank soos Brittanje gedoen het, word die kreet van moedelose belastingbetalers al sterker om die voorbeeld te volg.

Hernude onderhandelings tussen die Griekse regering en sy skuldeisers het begin, wat die moontlikheid van ’n Grexit (uittrede) verhoog.

Die uittrede van Griekeland kan verrykende gevolge inhou vir die Europese Unie, aangesien nasionaliste soos Marine Le Pen van Frankryk en Geert Wilders van Nederland ook nie veel liefde toon vir die EU nie.

Foto – Honderde boere blokkeer snelweg