Duiwe in Oorlogtyd

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was duiwediens vinnig ingestel. Duisende duiwe het aan die kuste van Suid-Afrika diens gedoen en ook in die Midde-Ooste. In elke vliegtuig wat opgestyg het, was daar twee duiwe in ‘n mandjie. Wanneer ‘n noodboodskap gestuur moes word, soos waar ‘n vliegtuig ‘n noodlanding moes doen, is ‘n duif losgelaat. Die duif was die beste nuusdraer wat die vyand nie kon hoor nie.

Een groot moeilikheid waarmee vlieëniers in vlug te kampe gehad het, was hoe om ‘n duif te los sodat hy nie in die vliegtuig se skroef beland nie. Gou is ontdek hoe om dit te doen. Dit was eintlik so eenvoudig. Die duif is in ‘n strook papier toegerol, net soos ‘n mens ‘n bottel sou toerol, en die twee ente is oop gelaat. Hierdie pakkie is dan uit die vliegtuig gegooi en omdat die duif nie dadelik sy vlerke kon oopmaak nie, het hy eers ‘n ent geval. Nadat alle gevaar vir hom verby was en die papier om hom losgeraak het, het hy sy koers gekry.

Behalwe vliegtuie, was skepe en vissersbote ook van hierdie nuttige klein boodskappers voorsien en talle kere wanneer gevaar gedreig het, het hulle die nodige uitkoms gebring. Radioboodskappe is deur die vyand ontsyfer en hulle verdediging dan opgeknap. Dikwels was radio’s se seine swak of was radio’s beskadig of nie beskikbaar nie, soos wanneer ‘n vlieënier met ‘n valskerm moes uitspring. Dan het hy ‘n duif in ‘n houer op sy rug vasgemaak.

‘n Duif kan ongeveer 800+ km op een dag vlieg. Verder as hy ‘n stertwind kry.

Verkenners wat deur vliegtuie agter die vyandelike linies neergelaat is, het ook duiwe wat in hulle klere versteek was, saamgeneem. Sodoende kon hulle maklik die nodige inligting aan hulle opperbevel stuur. Agter die slagvelde was daar vervoerbare hokke opgestel. Soms het dit gebeur dat as ‘n duif terugkom, die hokke in die platteland of in woestyngebiede al twintig tot vyftig km verskuif was. Dit het nie saak gemaak nie – die duif het sy hok gevind en sy boodskap afgelewer. Die hokke het nie almal dieselfde voorkoms gehad nie en op elke hok was daar ook verskillende patrone geskilder sodat die duif sy hok maklik kon uitken.

Hou in gedagte dat ‘n duif trapsgewys vanaf kort afstande tot langer afstande geleer is om die nodige onderskeidingtekens en verskuiwing van hokke waar te neem.