Die reis van sy lewe!

’n Klein wasbeertjie in die Amerikaanse deelstaat Virginië het die afgelope naweek die reis van sy lewe gehad toe hy moes hang aan die leer van ’n vragmotor wat vullisverwydering doen.

Die verslaggeefster het per geluk deur die venster van haar voertuig gewaar dat die klein wasbeertjie vashou aan die leertjie van die vragmotor. Sy kon daarin slaag om ’n foto van die beertjie te neem wat sy later op die sosiale netwerk van Twitter gesit het, en wat duisende mense se aandag getrek het.

Sy kon ook die bestuurder van die vragmotor telefonies kontak en verwittig van die kosbare vrag wat hy vervoer.

Teen die tyd dat die vragmotor tot stilstand gekom het, was die beertjie reeds 11 kilometer weg van waar sy reis begin het.

’n Polisiebeampte wat op die toneel aangekom het, wou die wasbeertjie vang, maar die diertjie was te flink en het spoedig verdwyn in ’n nabygeleë parkie.