Brug is geen Dobbelspel

Sal ek vir julle sê lekker speel, want dit is wat brugspelers vir mekaar sê wanneer hulle mekaar die stryd aansê. Dit is soortgelyk aan vissermanne wat stywelyne aan mekaar sê.

Dit blyk dat ons mense al hoe meer besef dat brug ‘n vryetydwetenskap is en dat geluk nie ‘n rol speel nie en dat brug nie dobbel is nie. In ander sportsoorte speel mense vir geld soos in rugby en krieket en gholf.

In Amerika is daar wel brugspelers wat tuis soms vir die pret vir kleingeld speel, maar steeds is brug nie dobbel nie. Dobbel word slegs in vyf van die Amerikaanse state toegelaat en die ander 45 state is sterk teen dobbel gekant.

By geleentheid het 12 gewapende polisiemanne op ‘n woonhuis in Seattle, Amerika toegeslaan en brugspelers gearresteer op aanklagte van dobbel. In die hof is aangehoor dat die brugspelers vir kleingeld gespeel het en dat ‘n speurder oor ‘n langer tydperk ‘n bedrag van $3,40 verloor het. Dobbel is verbode in die staat Washington. Na verduideliking oor wat brug is en hoe dit gespeel word, het die hof egter bevind:  “Bridge is a game of skill and not a game of chance.”

Iemand het my nou die dag gevra dat ek ‘n bietjie vir hom moet wys hoedat ‘n mens brug speel, dan kan hy dit ook aan sy vriende wys. Ongelukkig is hy op ‘n verkeerde spoor, want jy kan nie sommer net vir iemand wys hoe speel ‘n mens brug nie. Dit is ‘n spel wat jy oor minstens ‘n paar maande goed moet instudeer voordat jy genoeg van die beginsels kan bemeester om eenvoudige brug te kan speel. Daarna is verdere studie nodig.

Mense wat net by die huis brug speel, is dikwels onder ‘n wanindruk. Gewoonlik speel hulle ‘n afgewaterde vorm van brug wat nie op wetenskaplike beginsels gegrond is nie en amper neerkom op net kaarte vashou. Hulle kan gerus kom kyk hoe regte egte brug gespeel word..

Daar is al duisende omvattende boeke oor brug geskryf wat verskillende fasette van brug beskryf omdat brug so ‘n omvattende spel is. Ongelukkig word die boeke net in die buiteland uitgegee dan net in Engels. In Suid-Afrika is die omset vir goeie boeke baie laag omdat ons mense die spel moeilik bemeester.