Blydskap gebore uit Bekering


… En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is … en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis (Hand. 8:37, 39).

Toe bring hy hulle in sy huis en sit hulle ’n maaltyd voor; en hy het hom verheug met sy hele huisgesin dat hy tot geloof gekom het (Hand. 16:34).

Twee van miljoene! Hoeveel mense het al hierdie blydskap van bekering ontdek? Soos die Heilige Gees die geloof werk in die harte van die uitverkorenes spoel hierdie blydskap oor die wêreld. Oral ontdek mense die vreugde om in Christus vergifnis van hulle sondes te ontvang en as bevrydes, kinders van die Here te word. Dit is jammer dat mense soms so vasgevang word in die daaglikse katastrofes dat hierdie blydskap vergeet word. Bid dat die Here jou sal herinner aan jou uitbundige blydskap toe jy tot die besef gekom het dat jy verlos is. En troetel daardie blydskap en herbeleef dit elke dag as jy in die Bybel lees van God se liefde vir jou of wanneer jy met jou geliefdes daaroor praat. Dink aan elke getroude vrou wat gereeld na haar verloofring kyk en weer die vreugde van die liefde beleef.

Ek juig saam met miljoene gelowiges oor die hele wêreld omdat U ook aan my die geloof geskenk het, o Here. Amen.