Begrotingsperspektief – ´n vooruitskouing

Die reg of verkeerd van belasting is nie oop vir debat nie: die owerheid mag redelike belasting hef, die landsburger mag daarom dan aanspraak maak op bepaalde dienslewering.

Die moraliteit van belasting is egter wél debatteerbaar en van kernbelang, maar ongelukkig onder die hiel van ´n tirannie, tot groot mate ´n teoretiese debat.

Nogtans mag ons nie versuim, om as daad van protes, die immoraliteit van SA se belasting en begroting, bloot te lê nie.

Dit is dan juis belangrik om dit vooruitskouend te doen, want vir die begroting om die toets van moraliteit te slaag, is enkele belangrike maatstawwe en perspektiewe onvermybaar.

Ten eerste, geen owerheid kan aanspraak maak op ´n moreel-aanvaarbare begroting, indien dit nie:

BILLIK is in terme van sowel die skaal van belasting, as die dienste-teenprestasie nie.

BILLIK is in terme van ewewigtigheid is bydrae tot die staatskas, en ontvangste in die vorm van dienste nie.

Op die eerste punt is meeste belastings nie te onredelik nie, met enkele uitsonderings.  Maar ten opsigte van sowel dienslewering as ewewigtigheid is die huidige stand staatsfinansies nie net immoreel nie, maar drakonies en onregverdigbaar.

´n Belastingbasis van tussen 5 en 6 miljoen kan nie meer as 55 miljoen mense onderhou nie.  Voorts kan die besteding aan sosiale toelaes vir enige persoon anders as oues van dae, medies ongeskikte persone en werkloses glad nie geregverdig word nie.  Hierdie geld ook besteding aan huisvesting, onderrig en dienste aan enige groep wat nie eweredig tot die staatskas bydra nie.

Dit gaan egter nog verder:  solank staatsbesteding hoofsaaklik vermors word op ´n onproduktiewe werkersmag in die staatsdiens, aan politici wat parasiteer op die belastingbetaler, en daar enigsins korrupsie bestaan in owerheidskringe, kan geen belasting moreel geregverdig word nie.

Ongelukkig, in die sogenaamde “regstaat”, het die regime sy reg tot onteiening, sonder beskerming van die hof, in die Belasting Administrasie wetgewing verskans!

Verder, soos humanisme en “mensregte” bykans elke ander lewensterrein vergiftig het, geld dieselfde die land se finansies:  Die breë publiek word deur die media en sogenaamde “onafhanklike” kundiges wysgemaak dat euwels soos sosiale besteding en belastings op (eerlik verdiende) welvaart “billik” is, weens gewaande “agterstande” en armoede.

Ofskoon armoede ´n daadwerklike probleem is, moet die grondoorsaak gesoek word by onproduktiewe, staak-behepte werkers, korrupte regeringslui en swak ekonomiese beleid.

Tussen 1902 en 1938 het die Afrikaner homself opgewerk teen ´n onderdrukkende regime se haat; van 1948 tot 1966 het die land reuse ekonomiese hoogtes bereik, waarvan die vrug vandag nog merkbaar is.

In 23 jaar het die ANC en Afrikaan bloot geplunder, verwoes …

Maar hoe sal ´n morele begroting dan daar uit sien, sou die haas onmoontlike gebeur?

  1. Staatsfinansies behoort ten eerste los te staan van partypolitiek en afgestem te wees op dienslewering, produktiwiteit en ekonomiese groei, tot uitsluiting van alle ander oorwegings.
  2. Die beginsel van ´n insluitende belastingbasis is onmisbaar: elke landsburger wat stemreg en dienste wil ontvang, moet tot die fiskus bydra deur direkte belasting. (die enigste uitsonderings is minimaal)
  3. Besteding moet afgestem word op infrastruktuur en noodsaaklike dienste, tot uitsluiting van staatsgedrewe “werkskepping”, sosiale toelaes (uitgesonder noodsaaklike toelaes vermeld) of sosio-politieke “hervorming”
  4. Elke landsburger behoort minstens 50% van sy/haar belasting terug te ontvang in direkte dienste, met die keuse van ´n belastingkorting.

Om die laaste punt te illustreer:  Indien iemand verkies om sy/haar kind in byvoorbeeld ´n CVO skool te laat onderrig, behoort die subsidie per kind dieselfde te wees as die waarde vir kinders in geen-fooi skole.

Dit is baie eenvoudig:  niks in die lewe is gratis nie; daar bestaan geen “reg” op enige dienste nie.

Almal is wel geregtig om van die owerheid gelyke toegang tot dienste te verkry, maar dan moet elkeen vir sy/haar aandeel daarin betaal.