Alliansie ruk op teen terroriste

Met die rugsteun van Amerikaanse vegvliegtuie is die Siriese weermag en Koerdiese soldate besig met voorbereidings om die selfverklaarde “hoofstad” van die Islamitiese Staat binne te val.

Die Siriese stad Raqqa wat deur die terreurgroep as hulle Siriese hoofstad beskou word, is reeds meer as vier jaar die hoofbasis van die terroriste, en het in die afgelope maande versterk toe terroriste uit Aleppo moes vlug.

Die Siriese rebellemagte word steeds deur Amerika gerugsteun, terwyl Rusland die groep as terroriste beskou en vroeër verskeie aanvalle op hulle uitgevoer het.

Waarnemers sê die Koerdiese magte is die sleutel tot sukses weens hulle wye ervaring in die stryd teen terroriste.

President Trump het egter die Amerikaanse weermaghoofde 30 dae tyd gegee om met ‘n behoorlike beplanning na vore te kom oor hoe daar met die terroriste gehandel gaan word.