Aanvalle op Le Pen verskerp verder

Aanvanklik was Marine Le Pen geen bedreiging vir die Sosialiste of vir die Republikeine nie, en is daar weinig oor haar optrede in die media gerapporteer.

Na mate die besef deurgedring het dat Le Pen die sterkste steun in Frankryk geniet om as president verkies te word, het die aanvalle begin.

Aanvanklik is probeer om van haar ’n korrupte kandidaat te maak wat onregmatig fondse van die Europese Parlement ontvang het.

Toe die foefie nie slaag nie, is gepoog om haar as moontlike wenner aan te wys in die eerste rondte van die verkiesing, met die beklemtoning dat sy dit nie sal maak in die finale rondte nie.

Ook dit het nie geslaag nie, veral toe Britse koerante meld dat Le Pen die meerderheid steun het en nou ook steun ontvang van teleurgestelde Republikeine wat nie verder steun aan Francois Fillon wil gee nie.

Nou word die Franse kiesers bang gepraat dat Marine Le Pen “die hele Europese Unie kan sink” as sy president van Frankryk word.

Die Duitse Minister van Buitelandse Sake, Sigmar Gabriel, is ingespan om die bewering te maak in ’n poging om gesag te gee aan die moontlikheid.

Gabriel se in ’n verklaring dat Marine Le Pen ingestel is daarop “om Europa te vernietig”.

Politieke ontleders in Europa se die minister het te vêr gegaan met sy bangmaak verhaal, want niemand glo dat Le Pen van plan is om Europa te vernietig nie.

Die Duitse minister is glo ook bekommerd oor die gesindheid wat Le Pen openbaar teenoor Rusland met haar siening dat ’n beter verhouding met Moskou ’n noodsaaklike is om vrede in die gebied te verseker.

Waarnemers wys daarop dat die mening van Le Pen in ooreenstemming is met die Trump regering se beleid.