Vloot met rooigesig oor gesteelde antennas

Daar was groot ongemak in die vloot toe opgemerk is dat kommunikasie onderbreek is, nie deur ‘n tegniese probleem nie, maar deur tegniese afwesigheid: antennas is gesteel.

Die SAS Amatola kon verlede week nie met die vloot se kommunikasiesentrum op land kontak maak nie as gevolg van die diefstal, wat skynbaar plaasgevind het by die weermag se gesamentlike taktiese hoofkwartier by Silwermyn in Kaapstad.

Die militêre polisie ondersoek nou die saak, en die raaisel is hoe iemand die reuse-antennas reg langs die ondergrondse kommunikasiesentrum se ingang kon steel en verby die vloot se wagte by die hoofingang kon wegdra. Die vermoede is dat die diefstal oor ‘n tydperk plaasgevind het.

Die jongste diefstal laat opnuut vrae ontstaan oor die veiligheid van militêre instellings.