Spekulasie oor Trump en Poetin gesprek

President Donald Trump het aangekondig dat hy ’n telefoniese gesprek gaan voer met  die Russiese President Vladimir Poetin, wat hoofsaaklik sal handel oor sanksies teen Rusland wat deur Obama ingestel is.

Die media in Amerika spekuleer dat President Trump bereid sal wees om die sanksies teen Rusland op te hef, of minstens te verlig.

Waarnemers sê hulle wonder wat die president se motief sal wees om die sanksies op te hef, gesien in die lig dat dit ingestel is weens die Russe se betrokkenheid in die ooste van die Oekraïne.

Kenners wys daarop dat talle konserwatiewe politieke leiers bereid is om beter verhoudinge met Rusland aan te gaan, en president Trump het verskeie kere gesê hy sal hom beywer vir beter betrekkinge met Rusland.

Ander leiers soos Marine Le Pen, en Francois Fillon van Frankryk is ook ten gunste van beter betrekkinge met president Poetin, terwyl die Britse premier, Theresa May, minder entoesiasties is oor die wending.

Die gesprek wat Saterdag tussen die Russiese president en president Trump plaasgevind het, kom op ’n tydstip dat die wêreld asem ophou oor Amerika se verhouding met ander regeringshoofde.

Foto – President Poetin