Sjina vra vir kernwapenvrye wêreld

As eerste spreker tydens die opening van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, het die Sjinese president, Xi Jinping, almal verras deur ’n beroep te doen op lande van die wêreld om kernwapens te vernietig.

Hy het ook die versugting uitgespreek dat ’n bestel gevestig word waar groot en kleiner lande gelyk aan mekaar sal wees.

Waarnemers het die wenkbroue gelig vir die opmerking terwyl Sjina skuldig staan dat hy talle Oosterse volke as deel van Sjina behou terwyl die volke ’n begeerte het van algehele onafhanklikheid.

In sy toespraak van 45 minute het die Sjinese president gesê die ontwapening van kernwapens sal die wêreld bevry van ’n gruwelike gevaar en die besit daarvan behoort algeheel verbied te word vir enige land.

Hy sê die domineering van kleiner lande behoort verwerp te word deur die wêreldleiers, en hy sê voorts dat soewereiniteit die belangrikste element is vir elke volk.

Met verwysing na Sjina, het hy gesê sy land het nog altyd menseregte hoog aangeslaan, en het nog altyd die mense se belange voorop gestel.

Politieke ontleders het die opmerkings van die Sjinese president as ’n mistasting van die volle waarheid bestempel.

Foto – President Xi Jinping