Merkel kry oorweldigende steun

Die gematigde Bondskanselier van Duitsland, Angela Merkel, het oorweldigende sterk steun gekry in haar eie kiesafdeling in die ooste van Duitsland om in die September verkiesing as kandidaat van die Christen Demokrate Unie (CDU) te staan.

Merkel het die afgelope Saterdag byna 90% ondersteuning gekry van die lede van haar CDU in die plaaslike kiesafdeling waar sy reeds sedert 1990 die party verteenwoordig in die Bundestag.

Vier jaar gelede het Merkel ’n 100% steun geniet in die kiesafdeling, wat daarop dui dat sy tog steun verloor het.

Kenners wys daarop dat die steun weinig betekenis het in ’n verkiesing, want verlede September het die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AFD) sowat 21% steun geniet in die Mecklenburg-Wes Pomeren streek.

In daardie streek het Merkel se CDU slegs die derde meeste stemme getrek, wat die kanselier goeie rede gee om bekommerd te wees.

Verlede naweek het die AFD hulle opponent teen Merkel bekend gemaak vir die betrokke streek, toe hulle die parlementêre leier van die party, Leif-Erik Holm gekies het.

Kenners meen die AFD sal wel ’n goeie vertoning lewer in die kiesafdeling, maar die kans om Merkel te oorwin in die streek is blykbaar nie baie goed nie.

Foto – Leif-Erik Holm