Manzanita struik bietjie onbekend?

manzanita-bushManzanita is ‘n spesie van die Arctostaphylos familie. Dit is ‘n immergroen struik of word ook geklassifiseer as ‘n klein boom. Dit kom oor die algemeen in die weste van Noord Amerika voor. Hierdie struik groei dig en het rooi-bruin bas aan sterk takke. Daar is ongeveer 105 van hierdie spesies.

Hierdie klein boompies of struike word tot 6 meter hoog, so dis eintlik nogal nie so klein nie. Hulle het digte heldergroen blare op lang takke. Manzanitas blom in die winter tot vroeg lente en die blomme is lig- tot donkerpienk. Dit dra ook bessies wat eetbaar is. Dit sal gevolglik voëltjies en skoenlappers na die tuin lok.

Die woord Manzanita is afgelei van die Spaanse woord “manzana” wat appel beteken. Dit staan daar ook bekend as die “little apple”. In die Verenigde State staan dit bekend as die “madrone”.Daar is van die mense in Noord Kalifornië wat die blare van die manzanita gebruik om vel irritasies mee te behandel. Volgens hulle bevat die blare chemikalieë wat vir verskeie ander siektes ook gebruik kan word.

Die bessies kan geoes word en in massas gestoor word en is eetbaar. Wanneer hul gedroog is kan dit gemaal word en by voedsel gevoeg word. Die bessies is ryp wanneer hulle rooi is en kan dan net so vars geëet word of groen vir ‘n ligte suur smaak. Dit word ook gebruik om geregte te verdik. Vars bessies en die sagte toppies van die takke kan ook soos ‘n drankie getrek word. Daar is ook van die ou Amerikaners wat Manzanita blare as tandeborsels gebruik.

Manzanitas is eintlik ornamenteel in die tuin. Dit kan droogte redelik goed weerstaan. Dit groei dig en rond met ‘n dik stam en vertoon mooi met die rooi stam en takke. Die takke met blare word ook in rangskikkings gebruik. Die hout van die Manzanitas is hard en word ook gebruik om meubels te vervaardig.  Hierdie plante groei stadig. Die afgesnyde takke neem lank om droog te word.

Manzanitas is skaars plante regoor die wêreld. Dit is ook beskermde plante in sekere dele van die wêreld.

Tuiniers, mag die nuwe jaar vir u almal groen grasperke en baie blomme hou. Geniet dit terdeë.