Mantashe probeer boere paai

Kommersiële boerderye moet in stand gehou word en bestaande boerderye moet nie verwoes word nie.

Georganiseerde landbou is verras enersyds en verstom andersyds, oor dié opmerking van Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, tydens ‘n mediakonferensie.

Mantashe en Luthulihuis word juis gesien as die ANC se beleidmakers, waar ook die onwerkbare grondhervormingsbeleid uitgedink is.

In die meeste gevalle waar grond in terme van grondhervormingsprojekte van eienaar verwissel het, het dit totaal misluk, en is die plase in wese vernietig.

Ten spyte van Mantashe se opmerking, het die ANC in sy Januarie-verklaring, wat waarskynlik ook grootliks deur Mantashe opgestel is, aangekondig dat hy op groot skaal grond wil onteien hierdie jaar. Mantashe se opmerking lyk dus teenstrydig, maar ontleders wys daarop dat dit waarskynlik net ‘n poging is om boere kalm te hou nadat TLU SA se president, mnr. Louis Meintjes, gewaarsku het dat boere nie gaan sit en kyk hoe hulle grond net gevat gaan word nie.