Landboukollege kry sy man terug

Die welbekende spesialis veearts van die Grootfontein Landboukollege buite Middelburg in die Oos-Kaap, kan binnekort weer sy amp beklee na ’n skorsing van ses maande.

Dr. Johan van Rooyen sal op 23 Januarie terug wees na sy skorsing en die vreemde dissiplinêre verhoor waaraan hy onderwerp is, maar waarteen hy nou gaan appelleer.

Sy skorsing was so streng toegepas dat hy verbied was om iets te doen, wat tot die ongerief en skade van talle boere gelei het.

Alhoewel dr. Van Rooyen skuldig bevind is aan vyf oortredings en sy posvlak verlaag is, kan hy terugkeer na sy werk, maar dit is nog onduidelik wat sy nuwe pos inhou.

Die frustrasie het hoog geloop omdat hy gewoonlik nege vakke per semester aanbied terwyl sy taak as staatsveearts ook baie aandag geverg het.

Die skorsing hou verband met die geveg tussen twee vakbonde wat beide op die kampus verteenwoordig word.

Vroeër was daar geen vakbonde betrokke nie, maar sedert die ANC bewind oorgeneem het, is die swart studente gerugsteun deur die vakbonde.

Dr. Van Rooyen se skorsing is wyd veroordeel aangesien dit ’n negatiewe invloed uitgeoefen het op die studente wat afhanklik is van sy klas aanbiedinge as professionele veearts.

Foto – dr. Johan van Rooyen