Kerriebos / Forest Primrose / Hypericum revolutum

Hypericum revolutum of Kerriebos is nie die soort struik waarvan kerriepoeier gemaak word nie. Die plant ruik nogal na kerrie. Kerriebos is in die familie Hpericaceae. Dit is ‘n immergroen struik en dit is die blare wat die ligte kerrie aroma verskaf wanneer dit gekneus word of na ‘n buitjie reën. Kerriebos het heldergroen gepunte blare en dra heldergeel blomme met baie stuifmeeldrade.

Hypericum revolutum word as ‘n struik of klein boompie geklassifiseer. Dit word tot 3 meter hoog en sprei ook tot 3 meter wyd. Die stam het ‘n rooibruin, growwe bas en die takke van hierdie struik hang effens gebuig. Hulle dra geweldig baie blare al langs die lang takke af.

Die blare van die Kerriebos is tussen 8 mm en 25 mm lank en gespits en het aan die onderkant van elke blaar duidelike lyne of are. Die blare is dig opmekaar al langs die takke in ‘n oneweredige vorm gespasieer. Die heldergroen blare het soms donker kolletjies en is sag.  Die blomme is enkel en heldergeel en word tot 50 mm in diameter. Dit blom in die somer tot herfs en dit blom baie goed. Na die blomtyd maak dit ‘n rooi-bruin saadkapsule wat vol saadjies is.

Kerriebos se natuurlike habitat is klam koel gebiede en groei baie mooi langs strome water en ook aan die kant van woude. Dit is egter ‘n bekende plant in ons tuine en aard die beste in die Oos Kaap, Transvaal, Natal, en Swaziland. Ons kan dit in elk geval in enige deel van ons land plant en dit sal groei maar moet beskerm word teen ryp.

Die naam “Hypericum” is afgelei van die Griekse woord “hyper” wat “bo” beteken en “eikon” wat “foto of prentjie” beteken. Al die variëteite van hierdie plant is ook bekend as “St. John’s wort”. Dit sal bye en voëls en skoenlappers na die tuin lok.

Die hout van die Kerriebos word gebruik vir boumateriaal en sommige volke gebruik dit as medisyne vir maagpyn. Die plante brand nie maklik nie. Plant die Kerriebos in volson tot halfskadu en goed gedreineerde grond en hulle hou van gereelde water.  Snoei hulle ook gereeld om ‘n mooi struik te groei. Dit kan ook in potte geplant word of as ‘n heining. Dit groei van saad of steggies en kan ook verdeel word by die wortels.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer. Begin solank uitkyk vir lentebolle by die tuinsentrums en kwekerye.