Joernalis geskiet

Een van die sogenaamde SAUK-8, Suna Venter, is skynbaar met ‘n windbuks in die gesig geskiet, maar is in ‘n bevredigende toestand.

Sy en sewe van haar kollegas het gerebelleer teen die SAUK se sensuur op nuusgebeure, en die agt het opgekom vir Vryheid van spraak en earlike nuusdekking. Hulle is daarop uit die SAUK gewerk of ontslaan.

VF+ se adv. Anton Alberts het Venter sterkte en herstel toegewens, en gesê dit is totaal onaanvaarbaar dat Hlaudi Motsoeneng, voormalige bedryfshoof van die SAUK, deur ʼn span lyfwagte beskerm word terwyl die SAUK-8, van wie sommige al doodsdreigemente ontvang het, geen beskerming kry nie.

Adv. Alberts sê die voorval waarin een van die agt, Suna Venter onlangs met vermoedelik ʼn windbuks in die gesig geskiet is, onderstreep die erns van die doodsdreigemente teen die joernaliste.

Venter was op pad na vriende toe sy buite ’n wegneem-eteplek in Linden geskiet is.

“Die polisie moet die dreigemente teen die joernaliste deeglik ondersoek om vas te stel wie daaragter sit. Die blote feit dat feitlik almal doodsdreigemente ontvang het, wys duidelik dat dit heel waarskynlik ʼn georkestreerde poging was om die joernaliste te intimideer en hulle tot swye te dwing.

“Die SAUK moet onmiddellik stappe neem om seker te maak die joernaliste kry ook beskerming. Indien dit nie gebeur nie, sal dié uitsaaier volle die verantwoordelikheid moet aanvaar indien een van hulle wel leed aangedoen word”, sê adv. Alberts.

Foto: Suna Venter toe sy nog by die SAUK was