Gordhan trek handskoene uit teen Guptas

Met hernude bespiegelinge dat die minister van finansies, Pravin Gordhan, dalk met ‘n verwagte kabinetskommeling sy pos kan verloor, het hy waarskynlik gevoel dat hy niks het om te verloor nie en die handskoene uitgetrek in sy geveg teen Jacob Zuma se Gupta-vriende.

Hy het hofstukke openbaar gemaak, waarin dit blyk dat die Gupta-maatskappy Oakbay hom aanhoudend gesmeek het om in te gryp in die banke se besluit om nie meer met hulle sake te doen nie.

Gordhan het drie maande gelede ’n hofaansoek gebring om ’n verklarende bevel te kry oor die kwessie of die minister van finansies mag ingryp indien banke stappe teen hul kliënte doen.

Oakbay het intussen bepaalde veranderings aangebring in sy aanslag teen Gordhan, en Gordhan sê dit is beduidend dat Oakbay nie nou bepaalde dokumente betwis nie.

Oakbay beweer nog wel dat Gordhan se aansoek is polities gemotiveerd is, maar Gordhan beskou die aantyging as “eenvoudig lasterlik”.

Gordhan ontken dat hy met ‘n veldtog teen die Guptas besig is. “Om die waarheid te sê, wat reeds ontbloot is, is ’n sistematiese en hoogs georganiseerde veldtog deur die Gupta-familie en sy genote teen die nasionale tesourie, myself en ander teikens.”

Gordhan het in die verband ook verwys na die staatskapingverslag wat deur die vorige openbare beskermer uitgereik is, nadat hy sy hofaansoek gebring het.