Geniale Brugpersoonlikheid (1901 – 1991)

Charles Goren was ‘n briljante persoonlikheid. Hy het die graad LLB in 1922 aan die McGill Universiteit verwerf en op 22-jarige leeftyd ‘n meestersgraad, dieselfde jaar as wat hy tot die Balie toegelaat is. In sy vrye tyd het hy homself opgeskerp met die klassieke werke van Milton Work en hand na hand uitgelê en bestudeer. Milton Work was die eerste brugspeler van formaat. Toe hy homself gereed geag het, het Goren vir sy eerste groot toernooi ingeskryf. Hy het sy afdeling gewen en was gou begeesterd. Sy prestasies hierna is tot vandag toe onge-ewenaard. Onder meer was hy die vasteland van Noord-Amerika se meesterspeler vir 19 jaar agtereenvolgens. Noord-Amerika is die grootste brug opset ter wêreld. Niemand anders het nog naby hierdie prestasie gekom nie.

Goren se eerste aanraking met brug was bloot toevallig. Op die ouderdom van ongeveer 20 het hy ‘n aantreklike vriendin ontmoet wat in haar vrye tyd brug gespeel het. Die eerste keer wat hy haar vergesel en saamgespeel het, was ‘n ramp. Hy het homself vir sy onkunde blameer en hom voorgeneem dat hy die spel sal bemeester. In die semestervakansie het hy ‘n brugboek gekoop en dit van buite geleer.

Aan die begin van die volgende semester was hy gereed om sy studentevriendin met sy meerdere kennis te beïndruk, maar sy was nie meer in hom geïnteresseerd nie. Dit het sy lewe verander. Hy het ‘n oujongkêrel gebly en met brug getrou.

Charles Goren was die wêreld se voorste brugkenner vir die grootste deel van die twintigste eeu. Hy was by miljoene mense bekend as  “Mnr  Brug.”  Hulle het meer as 10 miljoen eksemplare van sy boeke gekoop. Hulle het sy lesings bygewoon. Hulle het lesse geneem by sy erkende lesgewers. Hulle het op brugskeepstogte  “met Goren gereis.”  Hulle het kaarte en bybehore wat met sy naam/beeld bedruk is, versamel. Hulle het sy rubrieke en die artikels wat hy wêreldwyd vir brugtydskrifte geskryf het, gelees.

(Grappie) :  Op ‘n internasionale toernooi kry ‘n brugspeler geleentheid om sy kennis van vreemde tale te toon. Toe ‘n Franse teenspeler vir die Afrikaner in Engels vra watter kaarte hy in hartens gehad het, kom die antwoord hard en duidelik:  “The King, Queen and Farmer.”

Sommige brugspelers is geneig om allerhande verskonings uit te dink oor waarom hulle nie goed presteer nie. Goeie brugspelers sê : ” ‘n Brugspeler wat toevlug neem tot verskonings, vind gou uit dat daardie toevlugsoord geen deure het nie. Hy kan nie weer uitkom nie.”