Dragon / Tarragon (Artemisia dracunculs) ‘n kruid vir geurige geregte

Dragon of dalk beter bekend as Tarragon is ‘n meerjarige kruieplant en ook bekend as Estragon. Dit is ‘n spesie in die sonneblom familie of ook die Asteraceae en die rang is Asterales. Dragon groei wydverspreid in verskeie lande en groei wild in groot gedeeltes van Noord Amerika.

Die blare van Dragon is baie aromaties en vertoon amper aan roosmaryn dink, maar smaak nie so nie. Hierdie plante word tussen 120 cm tot 150 cm hoog met dun takke. Die blare is blink, smal, spiesvormig en is 2 cm tot 8 cm lank. Dragon se blare word maar 2 mm tot 10 mm in deursnee. Die takkies en die blare is heldergroen en die blare groei weelderig langs die kante van die takke. Dragon dra ook klein blommetjies wat tussen 2 – 4 mm in deursnee word. Blommetjies is groen/geel. Die Franse dragon dra baie selde blommetjies. Dragon vorm saad wat oor die algemeen steriel is. Dragon het ‘n baie sterk wortelstelsel wat versprei en so vermeerder die plante.

Die Franse Dragon het ‘n effense anysgeur. Dit kan dus in heelwat geregte gebruik word vir meer smaak. Dragon word veral in hoender en visgeregte gebruik. Dragon kan ook in asyn geweek word om ‘n heerlike smaak te verleen wanneer daar slaaisouse gemaak word. Dit word ook ingelê soos piekels vir gebruik in slaaie. In Armenië, Rusland, Georgia en die Oekraïne word dit as geurmiddel gebruik in die maak van koeldranke. Daar word ook geurige olies van gemaak.

Dragon is ‘n pragtige digte plant en ons kan gerus een in ons kruietuin plant en miskien gelukkig wees dat dit sommer weelderig groei al is dit ook net vir die aroma wat laatmiddag versprei word.

Tuiniers, oorweeg gerus om ‘n kruietuintjie aan te plant vir huishoudelike gebruik. Al die geure is te heerlik en sommige van die plante is so ornamenteel in die tuin en kan sommer tussen ander plante geplant word. Kruie aard goed in potte en dan is dit maklik om die regte plekkie te kry waar dit die beste sal groei.

Geniet u tuin tot volgende keer.