Boegoe, bekende kruid vir menige gebruike

Boegoe is seker een van die bekendste inheemse kruieplante van Suid Afrika. Dit is ‘n struik en het vele medisinale waardes.  Boegoe is in die familie Rutaceae en die genus is Agathosma. Boegoe is reeds in die vroeë 1800’s uitgevoer en word vandag uitgevoer as droë of vars plantemateriaal of olie.

Die naam ‘Boegoe’ is deur die Khoisan aan verskeie plante met ‘n sterk aroma gegee wat later van tye tot groot verwarring gelei het. Vandag verwys ons na ware boegoe as die verskillende spesies van die genus Agathosma. Boegoe is ‘n beskermde plant en mag die sonder toestemming in die veld gepluk of enige plant verwyder word nie.

Boegoe is ‘n klein struik en word tot 2 meter hoog. Dit het klein blink donkergroen blare. Dit het ‘n skerp skoon reuk en dra ook wit tot ligpienk blommetjies wat soos sterretjies lyk. Boegoe kom natuurlik in die Wes Kaap voor maar word ook landswyd aangetref. Daar groei ook in sommige oorsese lande van hierdie plante. Boegoe kan van saad gekweek word. Dit is nie baie maklik om dit van steggies te kweek nie.

Die bekendste gebruik van boegoe is om dit in brandewyn in te lê en dit dan te drink vir rumatiek of blaasinfeksies of enige urienweg infeksies. Dit word ook gebruik vir krame, koliek, slegte spysvertering, verkoue en angstigheid. Boegoe ruik baie sterk en dit is dus raadsaam om dit spaarsamig te gebruik. Dit word hoofsaaklik as ‘n tee, olie of aftreksel gebruik maar die vars boegoeblare kan ook gebruik word.

Boegoe se antiseptiese en waterdrywende eienskappe is gekoppel aan die bestanddeel “diosfenol”. Dit word baie as geurmiddel in kos en drankies gebruik en is een van die elemente van die swartbessiegeur. Boegoe olie word gebruik in kosmetiese produkte.

Die blommetjies van Boegoe maak natuurlik ‘n welriekende potpourri. Maak ‘n bossie van ‘n paar takkies en laat dit onder die bad se warmwaterkraan hang wanneer u vandag te lank in die tuin gewerk het, dis baie goed vir die seer en moeë spiere en sal die rugpyn verlig of ontspan sommer net in die welriekende water. Onthou egter altyd om u geneesheer te raadpleeg alvorens u enige kruie medikasie per mond inneem saam met voorgeskrewe medisyne.

Geniet u tuin tot volgende keer.