Aspen bome, bietjie onbekend aan ons?

Die Aspen boom groei meestal in koue wêrelddele en is in die Populus familie. Daar waar hierdie bome in die berge en bosse groei vertoon hulle net soos ons populier bome. Hulle groei hoog en regop. Hulle verkies ook koel somers.

Aspen bome word tussen 15 – 30 meter hoog. Hierdie bome word meestal aangeplant in woude. Hulle groei van saad en dan vermeerder en versprei die bome deur die wortelstelsel wat uitspruit en in die grond anker. Die wortelstelsel van een boom kan tot 40 meter sprei en in die grond anker vanaf die moederboom. Aspen bome kan tussen 40 jaar tot 150 jaar bly lewe. Die wortelstelsel van elke boom gaan nie maklik dood nie. Dit kan duisende jare neem alvorens die wortels doodgaan. Daar word beweer dat daar in sommige kolonies in Utah van hierdie bome is wat reeds 80 000 jaar oud is. Die bome groei met 1 meter per jaar. Hulle kan ook brande weerstaan en na ‘n bosbrand sal die wortelstelsel weer aanhou groei.

Aspens moet in son geplant word. Dit kan in enige tipe grond geplant word. Die saad van hierdie bome groei nie maklik waar daar van die Aspens in bosse staan nie, want elke saadjie wil son hê om te ontkiem en groei. Daarom is ‘n bosbrand goed want die sade kry kans om te ontkiem in die son na die bome gebrand het. Hierdie bome word al gewilder vir die bosbou industrieë in die lande waar hulle aard.

Hierdie bome se stamme is lank en regop en takke spruit al langs die boom op met heldegroen blare wat in die herfs geel verkleur. Dit vertoon pragtig. Die stamme van die bome is ‘n ligte romerige kleur. Aspen bome se hout is wit en sterk en brand nie baie maklik nie. Dit word gebruik om vuurhoutjies en papier te vervaardig.  Aspen hout wat hittebehandeling ondergaan het word verwerk en dit word gebruik om in die vervaardiging van sauna baddens. Dit word ook as pale by bouwerk gebruik omdat dit sulke sterk hout is. Dit verrot ook nie maklik nie. Wildsbokke en ander velddiere eet hierdie bome.

Tuiniers geniet u tuin tot volgende keer.