Trump se invloed hoog aangeslaan

z-629Die invloed wat Donald Trump, as die nuut verkose president van Amerika uitoefen, word hoog aangeslaan en is meer omvangryk as wat politieke ontleders verwag het.

Alhoewel Trump nog nie amptelik as president ingesweer is nie, oorskadu hy Barack Obama en toon deur konkrete optrede dat hy nie net oor ’n geweldige oorredingsvermoë beskik nie, maar ook inderdaad besig is om Amerika weer sterk te maak.

Die mees onlangse bewys hiervan is sy optrede deur Egipte te oorreed om nie ’n resolusie deur te voer by die Verenigde Nasies nie.

Egipte het ingestem om sy stem nie uit te bring by die VN Veiligheidsraad se resolusie wat opgestel is teen Israel nie.

Trump het direk met president Abdel Fattah al-Sisi geskakel, waarna die Egiptiese president aangekondig het dat hy die opgestelde resolusie teen Israel laat vaar het.

Dit volg nadat Egipte verlede week ’n resolusie gesirkuleer het waarin geëis word dat Israel sy aktiwiteite in die Wes Bank moet staak, en ’n stemming sou die volgende dag in die Veiligheidsraad plaasvind.

Waarnemers sê die optrede van Trump toon sy werklike invloed, maar ook goeie pogings om vrede tussen ou vyande te bevorder.

Politieke ontleders het daarop gewys dat die optrede van Trump die uitgaande president, Barack Obama oorskadu het.