Trump die rede waarom banke floreer

z-435Die finansiële sektor het aan die begin van 2016 nog gesukkel om uit die strompelende ekonomie te kom, maar sedert die amptelike aankondiging dat Donald Trump die verkiesing gewen het in Amerika, het veral die banke se posisie verbeter.

Nie net die banke nie, maar ook die versekeringsbedryf het baat gevind by Trump se verkiesing, en die aandelemark het ook getoon dat meer vertroue in die sektore hervat is.

Die genoteerde aandeel van die Amerikaanse handelsbank, Goldman Sachs, het in een week met 35% toegeneem teenoor wat dit voor die verkiesingsdatum van 8 November was.

Beleggers maak van die geleentheid gebruik om die beleid wat deur Trump uitgespel is gedurende die verkiesingsveldtog, reeds te ontgin, wat deur kenners as ’n gunstige tendens beskou word.

Finansiële deskundiges sê die Amerikaanse ekonomie gaan floreer met die vier miljardêrs wat Donald Trump aangestel het as lede van die kabinet.

Intussen het Trump aangekondig dat hy die miljardêr Carl Icahn (80), wat bekend was vir sy aggressiewe oornames van maatskappye, aangestel het as adviseur van finansiële hervormings.

Die miljardêr was oor dekades gevrees in die Wall Street omgewing vir sy blitsvinnige oornames, en met sy bates van meer as 17 miljard dollar, word hy steeds in finansiële kringe beskou as een van die mees invloedrykes in Amerika.