SAKP mes in vir Zuma?

blade-nzimandeSAKP sekretaris Blade Nzimande het vir die eerste keer in die publiek ‘n aanval op Zuma geloods.  Tydens ‘n jong kommunistiese liga byeenkoms het hy verklaar dat ‘n leier wat “gekoop” kan word, nie geskik is om die ANC en die regering te lei nie.

Nzimande wat tot dusver as een van Zuma se vertrouelinge beskou is, het Zuma gekritiseer as sou hy deel vorm van ‘n faksie binne die party wat tans besig is om voorbrand te maak vir Nkosazana Dlamini-Zuma om hom op te volg.

Zuma word tans gedruk om ontslae te raak van ministers wat versoek het dat hy moet uittree en Nzimande kan een van die eerstes wees wie se kop kan rol. Dit kan egter verreikende implikasies hê vir die sogenaamde drieparty-alliansie, waarin die SAKP ‘n dominerende rol speel.

Hierdie kan gesien word as ‘n duidelike aanduiding dat die opvolgerskap besig is om binne die strukture van die ANC te woed.

Enige moontlike opvolger van Zuma sal egter nie graag kwaaivriendskap met die SAKP wil hê nie, veral omdat daar steeds meer stemme in die SAKP opgaan om onder eie vaandel aan die volgende verkiesing deel te neem.

Foto: Blade Nzimande van die SAKP en minister in die Zuma-kabinet