Oorlogbom ontwrig Duitse stad

z-141Meer as 54 000 inwoners van die Duitse stad Augsburg moes Kersdag elders deurbring nadat ’n Brits vervaardigde bom uit die Tweede Wêreldoorlog gevind is en onskadelik gestel moes word.

Die ontruiming is een van die grootste operasies wat in Duitsland uitgevoer is sedert die afloop van die destydse oorlog.

Die bom wat bykans 2 ton weeg, is gevind toe bouwerk in die stad gedoen is en moes deskundiges ingeroep word om die bom wat nooit ontplof het nie, onskadelik te stel.

Die twee deskundiges het vier uur lank gewerk om die bom buite aksie te stel waarna kennis gegee is dat die inwoners mag terugkeer na die deel van die stad.

Die skadeloosstelling van die bom is egter vertraag omdat duisende mense eers kennis moes kry dat hulle die gebied moet verlaat alvorens  die deskundiges met hulle taak kon begin.

Die owerheid moes ook in aanmerking neem dat die bom op ’n dag skadeloos gestel moet word wanneer die padverkeer stiller is om die inwoners geleentheid te gee om te vertrek.