Motorrubriek – SVM 3000 V6

svm-3000-v6

Gedurende die tagtigerjare het ‘n veldren legende, Cliff Barker, die behoefte geïdentifiseer dat ‘n viertrek (4 x 4) voertuig in Suid Afrika gebou moet word wat sal voldoen aan plaaslike behoeftes, maar ook sal voldoen aan internasionale vereistes.

Dit het daartoe gelei dat Barker gedurende 1987 die SVM (Special Vehicle Manufacturers) tot stand gebring en begin vervaardig het. Slegs 300 voertuie is gebou. Barker het die voertuig so ontwerp dat dit maklik aanpasbaar was, met ander woorde dit was moontlik om veranderings aan te bring sonder buitengewone hoë koste. Vandag is daar selfs van hulle beskikbaar waarin daar V8 kragbronne gepas is.

Die Jeep Wrangler is gebruik as basis maar om die patentregte te kon registreer, moes daar veranderings aangebring word. Van hierdie veranderings was dat dit breër was as die Wrangler en die bekende waarmerk van die Wrangler, naamlik die sewe gleuf sierrooster, is verander na ‘n nege gleuf sierrooster.

Die onderstel was ontwerp en gebou volgens SVM spesifikasies. Vir die voltooide produk is ongeveer 80% van die onderdele in Suid Afrika vervaardig en aangekoop. Die viertrek aandryfstelsel is in Suid Afrika vervaardig terwyl ‘n vyfspoed T5 Borg Warner ratkas gebruik is.

‘n Ewenaarslot was standaard op die agteras en ‘n keuse kon op vroeëre modelle uitgeoefen word vir die vooras. Later was dit egter standaard toerusting ook op die vooras.

As kragbron is die betroubare Ford Essex V6 petrol enjin met brandstofinspuiting gebruik. Dit is dieselfde kragbron as wat in die Sierra XR6 gebruik is. Die uitlaatstelsel wat gebruik is het dit baie duidelik te kenne gegee dat ‘n Ford V6 gepas is. Die krag van die 2993 kub. sentimeter V6 was 110 kW @ 5700 o.p.m. en die wringkrag was 232 Nm @ 3250 o.p.m. Die gewig van die voertuig was 1240 kg. Tesame met die vyfspoed ratkas is ‘n oordrag ratkas gebruik met hoë en lae strek ratte. Vir die veerstelsel is bladvere voor en agter gebruik.

Alhoewel hierdie ‘n voertuig was vir ruwe veld terrein, kan dit met gemak op die snelweë gebruik word. Indien jy braaf genoeg is kan dit selfs gebruik word in versnelling toetse van 0 tot 100 km/u. Om die topsnelheid te bereik sal jy nog meer braaf moet wees.

Om vandag ‘n oorspronklike weergawe aan te skaf kan jou tot R65 000 en selfs meer kos. Dit is baie moeilik om ‘n oorspronklike weergawe te bekom, want die eienaars verkoop dit nie maklik nie en indien jy wel een kan bekom is dit die meeste van die tyd aansienlik aangepas.