IS betrokke by Berlyn slagting

z-711Terreurgroep Islamitiese Staat (IS) het verantwoordelikheid aanvaar vir die bloedige slagting in Berlyn waartydens 12 mense gedood en 48 gewond of beseer is.

Die vragmotorbestuurder wat verantwoordelik is vir die daad, en klaarblyklik nog op vrye voet verkeer, word deur die IS terroriste besing as een van hulle heldhaftige stryders.

Die Duitse polisie het ’n 28 jarige Pakistanse burger in hegtenis geneem, maar dit blyk dat hy nie die moordenaar is nie.

Die vragmotor met ’n Poolse registrasienommer se Poolse eienaar het gesê die vragmotor word deur sy neef bestuur, wie se lyk later in die agterste kajuit van die vragmotor gevind is.

Die polisie het gesê dit is duidelik dat die Poolse bestuurder ’n geveg gehad het met die moordenaar wat hom uiteindelik doodgeskiet het.

Die bewyse wat teen die Pakistanse man ingebring is, is klaarblyklik nie voldoende nie, en hy moes vrygelaat word, terwyl polisie besig is om die hele Berlyn te deursoek om die moordenaar op te spoor.

Intussen het die Islamitiese Staat op die sosiale netwerk gesê die moordenaar is ’n  “soldaat van die kalifaat wat gehoor gegee het aan die oproep om aanvalle uit te voer” in Europa en die Verenigde State.

Die eienaar van die vragmotor sê sy neef was ’n stewige, fris man wat nie maklik oorrompel kon word nie, en is waarskynlik deur meer as een terroris aangeval wat hom vermoor en daarna die vragmotor gekaap het.

Intussen het die polisie bekend gemaak dat hulle ’n profiel kon opstel van een van betrokke IS terroriste, en reeds vasgestel dat ’n hele netwerk van Islamitiese Staat terroriste ingegrawe is in Duitsland.