Gemeenskap help plaasaanvalslagoffers

In die gees van Kersfees het mense hulle harte en beursies wyd oopgemaak om plaasaanvalslagoffers te help.

Tydens ‘n plaasaanval naby Leeudoringstad op die plaas Rietkuil van mnr. Thys Grobler, is die 81-jarige mnr. Grobler en sy 76-jarige vrou, Rita, beseer, terwyl hulle dogter Karin Nel (53) en hulle kleinseun, Joe Astle (24) ernstig beseer is.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA het met ‘n fondsinsamelingsaksie begin toe dit blyk dat mev. Nel en mnr. Astle steeds in staatshospitale is waar hulle nie behandel word nie, skynbaar weens ‘n tekort van beskikbare dokters.

Mnr. Astle is ernstig beseer.  Hy is deur die wang geskiet, van sy tande is uit geskiet, sy tong is stukkend en die patroon is skynbaar naby sy oog uit.

Binne ure nadat mnr. Meintjes, asook TLU SA se streeksvoorsitter in die Wes-Streek, mnr. Theunis Kruger, aan die werk gespring het, kon mnr. Astle oorgeplaas word na ‘n private hospitaal, nadat die aanvanklike oorplasingskoste en vervoerkoste betaal is. Mnr. Meintjes sê beloftes het ingestroom en honderde duisende rande word verwag. Dit is egter op hierdie stadium egter nog nie seker wat mnr. Astle se behandeling en waarskynlike operasies gaan kos nie. Hy en sy moeder het geen mediese fonds nie.

Die Anncron kliniek het onderneem om na hom te kyk, en ‘n narkotiseur het intussen sy dienste vrywillig aangebied om te help, terwyl chirurge aangetoon het dat hulle teen verminderde tariewe sal werk om sy lewe te red.

TLU SA se adjunkpresident en voorsitter van die veiligheidskomitee, mnr. henry Geldenhuys, sê hierdie fonds kan ook gebruik word vir soortgelyke voorvalle in die toekoms, en hy het ‘n beroep op die publiek gedoen om bydraes te bly stuur om sodoende ‘n nasionale fonds van die grond te kry.

Die aanval het Kersdag net na 04:00 vm plaasgevind toe mnr. Grobler by die melkstal was om koeie te melk, toe 3 terroriste hom oorval het.

Sy vrou was in die huis, en twee van die terroriste het haar in die slaapkamer oorval en haar met die vuis bygedam en haar kop in ‘n kussing gedruk.  Mnr. Astle en sy moeder het in die kamer gekom, waardeur die terroriste op beide van hulle geskiet het. Die derde terroris het aangehou om mnr. Grobler buite die huis aan te rand.

Die terroriste het aanvanklik die melkgeld geëis, maar uiteindelik net met ‘n .38 rowolwer die hasepad gekies.

Bydraes vir mnr. Astle se mediese versorging kan voorlopig gemaak word aan:

HG Kotzee
Absa 628855773
Spaarrekening.
Verwysing:  Joe

Hierdie is net n voorlopige rekening tot Woensdag as die banke oop is, maar intussen kan dit die aanvanklike koste dra.

Op Kersaand was daar ook ‘n plaasaanval op die plaas Wolhuterskop in die Hertzogville-distrik in die Vrystaat.

Om ongeveer 21:00 is mnr. en mev. Keiser deur twee terroriste oorval en ernstig met knopkieries aangerand. Hulle is ook aangehou en in hulle eie voertuig ontvoer.

Mev. Keiser kon naby Boshoff uit die voertuig spring en hulp ontbied. Mnr. Keiser is later ongeveer 10 km Louis-Meintjes-TLU-SAbuite Boshoff afgelaai, terwyl die voertuig later ongeveer 20 km vanaf Hertzogville gevind is. Niks anders is geneem nie, en dit wil voorkom of suiwer rassisme hier die motief was vir die brutale aanval.

Foto: Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA