Cuphea plante

cuphea-planteDaar is soveel Cuphea plantspesies te koop by kwekerye en almal is pragtig. Dit is moeilik om een uit te sonder. Die blomme verskil ook van plant tot plant en daar is sommer baie kleure ook beskikbaar.

Cuphea is waardevolle plante, want dit blom omtrent die hele somer. Die blomme is klein maar lok bye en skoenlappers na die tuin. Cuphea is in die familie Lythraceae en dit is ‘n houtagtige struikgewas. Dit groei baie goed in tropiese gebiede. Hierdie plante kom oorspronklik van die tropiese gebiede van Sentraal Amerika en Mexiko.

Dit vertoon mooi waar dit in massas aangeplant is. Hierdie plante groei nie goed in gebiede waar swaar ryp voorkom nie. Dit sal mooi groei in die somer, maar sal heeltemal dormant gaan in die winter. Maar wees getroos, die pragtige plante sal weer in die lente van vooraf uitloop. Cupheas blom ook sommer vinnig nadat hulle weer begin uitloop het.

In rypvrye gebiede is hierdie plante immergroen en blom amper die hele jaar deur.

Tuiniers, plant gerus ‘n paar verskillendes in u tuin. U gaan beloon word met die allermooiste blomme. Geniet u tuin na die wonderlike reën wat groot dele van ons land ontvang het.