Arthropodium cirratum of ook genoem die Nieu Seelandse rotslelie

rengarenga-plantTuiniers, die lelie plante bly darem maar vreeslik mooi. Hierdie plant word ook die Rengarenga lelie genoem. Wanneer die Arthropodium cirratum plant blom, lyk dit soos ‘n klomp spinnekoppe wat op die stamme sit. Dit vertoon pragtig en is sterk plant en orgideeagtig.

Arthropodium cirratum is ‘n polvormende, kruidagtige meerjarige lelie. Dit is ‘n plant wat in die skadu onder die bome geplant moet word. Dit aard ook baie goed in kustuine in die skadu geplant.  Hierdie plant het sagte, lintvormige, welige lemmetjiegroen blare. Arthropodium cirratum verleen vorm en kleur aan enige bedding. Plant hulle sommer in massas onder die bome vir die beste vertoning.

Die stingels vorm vanuit die pol in die grond en is sterk en omring deur die blare. Stingels word tot 60 cm hoog met massas stervormige blomme aan weerskante. Die blomme verskyn in oorvloed in die laatlente en hou aan uitkom in die vroegsomer.

Plant dit in goed gedreineerde grond en dit sal ligte son verdra maar verkieslik skaduwee. Volgens bronne is hul beste kenmerk dat hulle ideaal is vir ‘n plek in droë skadu. Maak hulle goed nat sodra hulle geplant is om die plant aan te moedig om in die grond te vestig. Dit sal ook sommer verseker dat die plante die vermoë het om solank hulle lewe die droë toestande sal kan verdra. Dit is dus waterslim plante om in die tuin te plant. Bemes die plante in die lente. Arthropodium cirratum is gevoelig vir ryp.

Hulle is net die regte plante vir die Suid Afrikaanse tuine omdat hulle so  droogtebestand is. Tuiniers dis sommer ‘n mooi en min onderhoudplant vir ons tuine. Wees  egter op die uitkyk vir slakke omdat die welige blare hulle lok. Kyk maar gereeld onder die blare rond en strooi vroegtydig slakgif om die plante.

Tuiniers, geniet u tuin en hopelik blom u krismisrose nou in alle kleure onder die skadubome.