Appelkose is Desember vrugte!

appelkoseAppelkose is nou oral te sien en te koop. Het u ook agtergekom dat dit van die steenvrugte is wat al hoe skaarser en duurder word? Vroeër jare was dit so volop en so heerlik soet. Oor die algemeen is ons geliefkoosde konfyt mos ook appelkooskonfyt. Darem maar heerlik.

Appelkoosbome is in die Prumus (steenvrug) genus en gewoonlik van die spesie P.armeniaca, maar daar is ook verskeie ander spesies. Hulle is baie verwant aan mekaar, want die vrugte is dieselfde en ons sal op die markte en groentewinkels die verskil in die grootte en kleur van sommige appelkoos spesies sien.

Appelkoosbome word 8 – 12 meter hoog met ‘n stam wat tot 40 cm dik kan word. Dit het ‘n dig-spreiende kroon. Die blare van die appelkoosboom is ovaal tot rond en helder groen en is sag. Appelkoosbome is sterk bome en aard baie goed in meeste klimate. Ons is almal welbekend met die pragtige wit tot ligpienk blommetjies wat ook sommer mooi vertoon in blommerangskikkings.

Die vrugte wissel ook in grootte en kleur. Sommige spesies het die wonderlikste rooi wange maar dis nie te sê dat hul soeter sal wees as die vruggies wat nie rooi wange het nie. ‘n Appelkoos breek maklik oop en het ‘n harde pit wat soos amandel smaak indien die pit oopgekap word. Daarom kook sommige kokke die appelkooskonfyt met ‘n paar pitte in die pot vir die ekstra smaak. Appelkose is ook gesonde vrugte en bevat baie vitamine en minerale

Volgens bronne het appelkoosbome hul oorsprong van Armenië. Dit is egter ‘n boom wat eie is aan Suid Afrika. Ons het daarmee groot geword. Hoewel appelkoosbome deesdae skaars is, is dit nogal ‘n sterk boom maar is nie immergroen nie.

Daar is ook peste en plae wat appelkoosbome aanval in sekere gebiede. Meeldou kan ook voorkom en vrugte moet gespuit word sodat die goggas dit nie opeet nie.

Tuiniers, gaan koop sommer ‘n kassie appelkose en kook ‘n paar botteltjies konfyt met sulke heel gemmerstukkies in. Darem so heerlik op ‘n snytjie brood.

Geniet u tuin tot volgende keer. Mag al die rose en ander blomme vir u vele vreugde bring gedurende hierdie feestyd. Geniet ook die yskoue gemmerbier en vrugtekoek onder die koeltebome saam met al u geliefdes.