Polisie minister se "meisie" kry R 30 m

Nathi Nhleko, die Minister van Polisie, se vriendin, ene Nomcebo Mthembu, het volgens berigte meer as R30 miljoen ontvang vir dienste gelewer aan SAPD oor ’n tydperk van ses maande.

Die “werk” wat deur die organisasie Indoni gedoen is het ondermeer behels dat werkswinkels en sogenaamde kulturele funksies gehou word om xenofobiese optrede te voorkom. 

Geen tender is uitgesit vir die werk nie ten spyte van besware wat deur amptenare geopper is.

Nhleko het die program se loodsing reeds aangekondig tydens ‘n pers konferensie voordat enige tenders aangevra is.

Aangesien dit ‘n gemeenskapsprojek was het verskeie nie-winsgewende organisasies aangebied om die program sonder vergoeding te doen.

Die minister het glo ontken dat daar enige vergoedingsooreenkoms of kontrak tussen die departement en Indoni bestaan en gemeld dat daar wel ‘n memorandum van ooreenkoms was tussen die twee partye.

’n Politieke ontleder sê hy weet nie wat is die verskil in die beredenering nie, en verstaan ook nie waar die geld heengegaan het nie, maar alles lyk baie eienaardig.

Foto – Minister Nathi Nhleko