Pandorea jasminoides oftewel die Australiese prieelplant

australiese-prieelplantTuiniers, ons vergeet soms dat daar darem maar pragtige rankplante te sien is. Hierdie Australiese prieelplant is regtig iets besonders met sy wit/ligtepienk blomme met die rooi hartjie.

Soos die naam aandui, kom dit oorspronklik van Australië. Pandorea jasminoides is in die familie Bignoniaceae en net soos die naam aandui is dit die jasmynfamilie.  Dit kom veral in die reënwoude van die suidooste van Queensland voor. Die woord pandorea is van Grieks afgelei wat beteken dat dit in die mitologie van die ou Grieke die bose geeste vrygelaat het, en dit is omdat daar soveel sade in die saadpeule van die plante voorkom.

Die saadpeule is langvormig. Hulle skiet vanself oop om die saad vry te stel. Hierdie ranker blom oorvloedig en die blomme is baie dig opmekaar en trompetvormig. Die kleure van die blomme wissel van wit tot ‘n redelike helder pienk met die rooi keel. Hulle blom in die somer vir ‘n baie lang tydperk. Die blomme het vyf ronde blaartjies wat ons amper aan roosblare laat dink. De blomme word tot 35 mm lank.

Pandorea jasminoides kan in volson of ligte skadu in die tuin geplant word en sal baie goed groei in goed gedreineerde grond. Dit aard in enige deel van die land en groei dig en vinnig.  Die blare van hierdie plant is spiesvormig en word tot 50 mm lank. Dit is ‘n redelike geharde plant maar kan deur swaar ryp beskadig word.  Wanneer hierdie rankplant uitgeplant word, moet dit goed nat gehou word totdat dit gevestig is dan kan minder water toegedien word. Dit sal droogtes weerstaan. Pandorea jasminoides kan van saad of steggies groei.

Tuiniers, oorweeg gerus ‘n rankplant vir die tuin en geniet  die oorvloedige blomme en al die heerlike aromas wanneer die son begin sak.