Noorweë verwerp Snowden versoek

z-419Die hooggeregshof in Noorweë het die versoek van Edward Snowden om na die land te kom onder voorwaarde dat hy nie uitgelewer sal word aan Amerika nie, summier van die hand gewys.

Snowden het glo sy hoop gevestig op ’n positiewe uitspraak ten gunste van die beginsel om vryheid van uitdrukking te eerbiedig.

William Nygaard, die president van ’n organisasie wat die vryheid van uitdrukking wil bevorder, het blykbaar gepoog om die saak in die hof besleg te kry, maar moes later sê hy eerbiedig die hofbeslissing alhoewel hulle teleurgesteld is daarmee.

Die organisasie bekend as PEN het ’n prys toegeken aan Snowden, wat aan hom oorhandig sou word in November na afloop van ’n positiewe hof uitspraak, maar glo dat omstandighede so sal verander dat die prys persoonlik aan hom oorhandig kan word in Junie 2017.

Nygaard het egter gesê die moontlikheid bestaan ook dat die prys in Rusland aan hom oorhandig mag word en PEN wil dit op so ’n wyse doen dat dit die belangrikheid van fluitjieblasers sal beklemtoon.

Noorweë was een van die eerste lande waarheen Snowden destyds aansoek gedoen het vir asiel, maar wat nie toegestaan is nie vanweë die internasionale gevolge wat dit kon meebring.

Hy het egter ’n soortgelyke toekenning van Noorweë ontvang wat redelike opslae gemaak het in Amerika.

Foto – Edward Snowden