Honderde IS terroriste reeds dood

z-518Die stryd in die Irakse stad Mosoel het reeds die lewens van meer as ’n 1 000 Islamitiese Staat vegters geëis, wat die totale sterkte nou op sowat 5 000 vegters stel wat nog in die stad is.

Die gevegte wat reeds enkele weke duur in Mosoel, sal na verwagting nog maande lank duur voordat ’n noemenswaardige deurbraak gemaak word om die inwoners te bevry.

Die spesiale magte van die Irakse weermag word ondersteun deur die Amerikaanse troepe in die gebied, maar die ervare Koerdiese soldate is die suksesvolste groep teen die terroriste.

Die Koerdiese stryders het reeds meer as die helfte van die stad se oostelike gebiede verower, en daarmee die strop nouer getrek om die IS-terroriste.

Alhoewel die sukses reeds behaal is, sal die gevegte nog lank duur, want die vordering om die terroriste te verslaan is stadig en moeisaam.

Die terroriste is self bedrewe in stedelike oorlogvoering, en hulle beweeg voortdurend na ander gebiede wat aanvalle op hulle uiters moeilik maak.

Kenners sê die Russiese metode wat in Aleppo gevolg word, toon beter resultate. Hulle het die voedsel toegangsroetes afgesny wat dit vir die rebelle, terroriste asook die inwoners baie moeilik maak.

Onder leiding van die Koerdiese magte is Mosoel reeds volledig omsingel, wat dit vir die terroriste moeiliker maak om te ontsnap, veral omdat die ondergrondse ontsnaproetes reeds vernietig is.