Hittegolf tref Noordpool

z-119Op die hoë Spitsberg in Noorweë word die klimaatsverandering met kommer waargeneem weens die geweldige hittegolf wat daar heers.

Deskundiges beweer dat 2016 die warmste jaar is wat die aarde nog beleef het sedert die eerste metings in 1882 gemaak is.

Ketil Isaksen van die Noorse Meteorologiese Instituut het gesê die temperatuur is 7 grade Celsius warmer as normaal, en laat meer sneeu smelt as wat normaal is.

Hy sê dit is kommerwekkend, want gedurende die afgelope vier weke was die temperatuur tussen 8 en 12 grade Celsius hoër as wat dit moet wees.

Martin Stendel, ’n Deense deskundige het die verskynsel beaam en gesê dit kan chaotiese gevolge veroorsaak as die hitte voortduur.

“Ons het in die Noordpool nog nooit so ’n hoë temperatuur gemeet nie en dit is die hoogste wat ooit geregistreer is in November”, het hy gesê.

Die wetenskaplikes beweer die hitte word veroorsaak deur die El Niño verskynsel wat warm oseaan strome na die noordelike halfrond laat stroom.

Hulle reken dat die hitte te veel sneeu kan laat smelt, wat nie net die watervlak aansienlik laat styg nie, maar ook die afkoeling wat deur sneeuberge veroorsaak word, verminder.