Frambose / Raspberries / Rubus idaeus

raspberriesFrambose of soos ons dit eintlik sommer noem, “raspberries” is heerlike vruggies wat ons net so kan eet of met room soos aarbeie of in geregte en slaaie.  Frambose is in die Rubus (roos) familie en die subspesie is Idaecobatus. Die naam “raspberry” kom van die woord “raspise” wat beteken ‘n soet roosklerige wyn. Hulle word oral in die wêreld aangetref.

Raspberries is inheemse meerjarige plante. Hulle wil egter in koue gebiede geplant word en groei die beste in streke waar appels en pere groei. In ons Suid Afrikaanse klimaat moet hulle middagskaduwee kry.

Hierdie plante het harde lang stamme met sommer baie blare wat ons aan aarbeie laat dink. Dit dra oorvloedig en die vruggies is ligterooi en mooi stewig gevorm. Dit dra ook blommetjies voor die vruggies wat bye na die tuin lok.

Framboosplante groei welig en dra welig vrugte en dit kan ‘n tuin nogal redelik oorneem as ons nie versigtig is nie. Die wortels maak risome en dit sprei en maak weer nuwe plante sover dit gaan. Hulle groei ook van steggies. Plant hulle omtrent 600 mm uitmekaar en onthou dat hulle rankplante is. Hulle dra binne ‘n jaar vrugte. Wanneer die oes ingesamel is, moet hierdie plante goed teruggesny word, wat gedurende die winter sal wees. Hulle moet egter gereeld water kry.

“Raspberries” kook ‘n heerlike konfyt en die vruggies kan ook gevries word.

Tuiniers plant vroegtydig sodat u volgende jaar heerlike framboosgeregte kan maak of saam met room of roomys kan voorsit as nagereg. Geniet u tuin tot volgende keer.