Westringia fruticosa / Australiese Roosmaryn

australiese-roosmaynDie Westringia fruticosa is ‘n plant wat baie goed groei by die kus. Dit is oorspronklik van Australië afkomstig en die Afrikaanse naam is heeltemal gepas en word die Australiese Roosmaryn genoem. Westringia plante is van die mint familie (Lamiaceae). Dit word as ‘n struik geklassifiseer.

Hierdie roosmaryn groei baie welig en waar dit in massas aangeplant word vertoon dit regtig mooi. Dit kom by die kus langs die strande voor en dus ‘n baie goeie keuse vir die kustuine. Hierdie plante word langs sekere kuslyne aangetref waar hulle heeltemal op hul eie groei en gedy.

Australiese Roosmaryn plante is mooi gevorm en dit het sterk regop bosvormige takke. Indien dit in ons tuine geplant word groei hulle baie mooier en groter as waar hulle wild voorkom. Hulle kan tot 2 meter hoog word en tot 5 meter wyd. Die blomtakke groei direk uit die grond. Dit word ook geplant waar daar groot oop spasies is, as ‘n grondbedekker.

Die plante se voorkoms laat ons aan gewone roosmaryn herinner. Die takkies is sterk en lank en die blare is donker groen. Aan die onderkant van die blare is daar ‘n lagie dun haartjies te vind wat silwer skyn. Die blaartjies van hierdie plant groei dig op die takke en is tot 2 cm lank en gepunt.

Die naam van hierdie Roosmaryn verwys na ons gewone roosmarynplante maar is nie so geurig nie. Daar word egter ‘n ligte roosmaryn geur in die blommetjies gevind. Die blomme is wit tot pienk en ook ligpers. Daar verskyn ook rooi en geelbruin kolletjies op die blare naby aan die keel van die blomme. Die blomme is omtrent 2 cm groot en word na aan die bopunt van die takke gevind. Dit vertoon pragtig. Die blomblaartjies is smal en gepunt. Wanneer hierdie plante blom is dit oorvloedig behalwe in koue klimate.

Hierdie Roosmaryn kan van stiggies gegroei word en is te koop by kwekerye. Dit aard in enige tipe grond maar groei die beste by die see en kan souttoestande en winde weerstaan. Dit word ook as ‘n snyblom gebruik en pas mooi in groot rangskikkings omdat die stamme so reguit en sterk is. Hierdie takkies bly lank vars in water.

Oorweeg gerus ‘n Westringia fruticosa vir u tuin, geen peste en plae val dit aan nie.

Tuiniers, geniet u tuin in die somer onder die koeltebome. Ons hoop u grasperke oorleef die droogte en vertoon weelderig groen. Mag u geseënd wees met mildelike sagte reën.