Theresa May se grondwetlike krisis

z-45Die Britse eerste minister, Theresa May, staar ’n grondwetlike krisis in die gesig wat haar toekoms as regeringshoof op die spel plaas as sy nie voldoende steun vir haar Brexit-plan kry nie.

In die jongste studie wat gedoen is, lyk dit of die Britse eerste minister die wind van voor gaan kry, met die Skotse premier op die voorpunt.

Eerste minister May is tans besig om voorbereidings te tref om in gesprek te tree met die leiers van Skotland, asook die Iere en Walliesers, met die doel om haar plan van aksie aan hulle te verkoop oor hoe uittrede uit die Europese Unie gaan verloop.

Haar weerstand teen Skotland se eis dat hulle as gelyke vennote in die EU-krisis is, het die Skotte op hulle agtervoet en word ’n nuwe referendum in die vooruitsig gestel om die Skotte se gevoel oor onafhanklikheid van Brittanje te toets.

Voorheen het die Skotte met ’n klein meerderheid teen onafhanklikheid gestem in ’n referendum, maar kort daarna in die referendum oor EU lidmaatskap ’n sterk meerderheid gehad ten gunste van voortgesette lidmaatskap.

Nicola Sturgeon het onlangs aangekondig dat Skotland weer na die stembus gaan oor onafhanklikheid, wat beteken dat die land as lid van die EU sal aansoek doen na onafhanklikheid verkry is.

’n Verslag wat vrygestel is deur die Instituut vir Regering beweer dat die Britse parlement kan besluit om nie die referendum uitslag se aanbeveling te aanvaar nie, en dit derhalwe nie nodig het om uit die Europese Unie te bedank nie aangesien die Britse parlement soewerein is.

Premier May het egter gesê daar is geen sprake dat die referendum uitslag geïgnoreer gaan word nie, en die Brexit besluit staan vas.

Politieke ontleders in Brittanje meen egter die Brexit-krisis gaan vir die Europese Unie meer kopsere veroorsaak as vir Brittanje, en dat sy uiteindelik as oorwinnaar uit die krisis sal tree.

Foto – Nicola Sturgeon